PSIGOTERAPIE(KINDERS/ ADOLESSENTE EN VOLWASSENES)

Synergy Psychological Services bied voorligting en terapeutiese dienste om kliënte te help met die hantering van probleme en die fasilitering van optimale aanpassing, groei en volwassenheid tydens enige lewensfase (kinders, adolessente en volwassenes).

Alhoewel beproefde metodologieë voorrang geniet, word terapeutiese tegnieke volgens individuele behoeftes aangepas.

VOORHUWELIKSE BERADING

Hoë egskeidingsyfers dui op verskeie uitdagings wat nuutgetroude paartjies moet hanteer. Om die rede is dit van uiterste belang om 'n verhouding op 'n vaste fondasie met die nodige kennis en vaardighede te bou.

"EXECUTIVE COACHING"

Die doel van "Executive coaching" is om individue toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om hulle volle potensiaal in die korporatiewe wêreld te bereik.

PROGRAM ONTWIKKELING BY SKOLE

'n Breë spektrum van programontwikkelings- en opleidingsdienste word aan skole vir leerders en opvoeders verskaf.

Programme word volgens elke skool se behoeftes saamgestel en kan in Afrikaans of Engels aangebied word.

KORPORATIEWE OPLEIDING

'n Breë spektrum van programontwikkelings- en opleidingsdienste word aan korporatiewe instansies verskaf. Die fokus van programontwikkeling berus daarop om personeel met praktiese kennis en vaardighede toe te rus ten einde probleme effektief te bestuur asook om beroeps- en persoonlike ontwikkeling te optimaliseer.

Die Synergy Psychological Services span is internasionaal geakkrediteer om die Myers-Briggs Type Indicator (MBTI) persoonlikheidsvraelys te gebruik. Na meer as 60 jaar se navorsing en ontwikkeling is die huidige MBTI assessering die mees wyd gebruikte instrument om die self, motiverings, natuurlike sterktes en potensiële areas van ontwikkeling te verstaan.

Die gebruik van die MBTI persoonlikheidsvraelys het in die afgelope jare toegeneem omdat leiers en personeellede die praktiese waarde in organisatoriese probleemoplossing besef het. Om hierdie rede word die MBTI gereeld in programontwikkeling en opleiding gebruik. Programme word volgens elke korporatiewe instansie se behoeftes saamgestel en kan in Afrikaans of Engels aangebied word.

HUWELIKS -EN VERHOUDINGSTERAPIE

Volhoubare huweliksbevrediging verg inspanning en toewyding van beide partye. Verder is die ontwikkeling van sekere vaardighede noodsaaklik ten einde oop en konstruktiewe kommunikasie te verseker. Die fokus van terapie is om paartjies by te staan in die aanleer en toepassing van nuwe vaardighede. Tydens die proses val die fokus op die hede, terwyl daar na die toekoms gestreef word. 'n Unieke proses word gevolg waarby twee sielkundiges betrokke is om sodoende die objektiewiteit te verhoog. Daar is gevind dat 'n kombinasie van individuele en gesamentlike sessies suksesvol is.

ASSESSERING

SKOOLGEREEDHEID - 'n Holistiese beeld van die voornemende leerder se ontwikkeling word verkry deur die bestudering van kognitiewe, emosionele, gedrags- en sosiale rypheid. Inligting word deur kliniese onderhoude, psigometriese evaluering, sowel as kollaterale inligting versamel.

SKOLASTIESE PROBLEMATIEK - Hierdie assessering word gebruik om leer- en emosionele probleme sowel as sosiale struikelblokke en/of gedragsprobleme wat die skolastiese sukses van die leerder kan beïnvloed, te identifiseer. Verskeie aspekte wat noodsaaklik is vir die optimalisering van skolastiese funksionering word noukeurig ondersoek. Inligting word deur kliniese onderhoude, psigometriese evaluering sowel as kollaterale inligting versamel.

VAKKEUSES - 'n Dinamiese besluitnemingsbenadering word gevolg om leerders te lei om geskikte vakke te kies. Die proses word gerugsteun deur die verkryging van selfkennis, bestudering van toepaslike vakinligting, integrasie van inligting en besluitneming. Aanbevelings word gemaak op grond van die assessering van belangstelling, aanleg, studiegewoontes en studie-ingesteldheid. Hierdie assessering word individueel, sowel as in groepsverband aangebied.

BEROEPSVOORLIGTING - 'n Geïntegreerde, dinamiese besluitnemingsbenadering word gevolg om leerders deur die proses te lei. Die proses word gerugsteun deur die insameling van agtergrond- en beroepsinligting, die ontwikkeling van selfkennis, integrasie van inligting en besluitneming. Aanbevelings word gemaak op grond van die assessering van belangstellings, aanleg, persoonlikheid en beroepsvolwassenheid. Hierdie assessering word individueel, sowel as in groepsverband aangebied.

STUDIEMETODES

Die hooffokus van die Flink Dink studiemetode-reeks sluit in:

- Motivering
- Doelwitstelling
- Tydsbestuur
- Effektiewe leesstrategieë
- Geheue strategieë
- Maak van opsommings

GROEP- GESINSTERAPIE

Groep-/gesinsterapie raak individue aan op 'n kreatiewe en lewegewende wyse. 'n Veilige omgewing word geskep waardeur daar aan individue gedemonstreer word dat hulle nie alleen is nie en dat daar hoop is om 'n nuwe lewe te skep. Die hoofdoel van groep- en gesinsterapie is om die groep-/gesinslede se patrone van interaksie aktief en direk uit te daag. Hierdeur word groep-/gesinslede gelei om hul eie gedrag te ondersoek.

OUERLEIDING

Die fokus van ouerleiding berus nie op die kind se probleemgedrag nie, maar fokus daarop om ouers te leer hoe om hul optrede te wysig. Ouerleiding is 'n praktiese en interaktiewe proses. Hierdeur word ouers bygestaan om struikelblokke rakende hul kind effektief te hanteer en sodoende ontwikkeling te optimaliseer. Ouerleiding kan individueel of in groepsverband aangebied word.

SKYPE PSIGOTERAPIE

In ons globale wêreld is dit vir Synergy Psychological Services belangrik om dienste so toeganklik as moontlik te maak. Met Skype psigoterapie sal jy jou sessie kan hê in die gemak van jou eie huis, ongeag van waar jy jou bevind in die wêreld is.